"Teen drie het ek opgehou huil" deur HENRI LAURIE [boodskap #16372] |
Sun, 26 July 1998 00:00 |
G.B.
Boodskappe: 2173 Geregistreer: May 1997
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
TEEN DRIE HET EK OPGEHOU HUIL
Henri Laurie
1.
Ek staan op die oewer van die vloeiende hede
met gister en môre soek ek vrede.
Die onthutsende skermutselings
en die lam waens van afwagting
skaaf en versper my al platter
en die aaklige kleinding bly skel in my skedel
soos altyd
soos die verskliklike knip van die eerste naels
wat nog steeds knal van skerpte
die brat dring aan op verlossing en verknussing
en weier die blêr van boekdele
weier die gelooide stipte van spierknoppe
mompel hoorbaar by stroop verby
speel slegs saam in seks, maar
bly versigtig.
Ek bly staar na die vloeiende hede
gister en môre bring geen vrede nie
as ek voel in die vloed word dit skerwe
wat ek in my ore prop
om die brat se bek te stop
wat bly gil tussen voer en kombers
en bly kerm in my doen en late.
Op hede soek ek vrede
of groot baklei
om die arme brat stil te kry.
2.
Brat, met jou is nie te praat nie
jy is gevaarlik, jy is terpentyn en bliksem,
jy virus in my hartsnare en breinsnoere
ek het jou agtergelaat
nou swernoot jy agter my gelaat
my gladde glimlag krap jy skeef
en kwel growwe plooie deur my gaafheid.
Moet ek dans op jou neulende skrein?
Popspeel met poeier en heuningkwas
om jou 'n vel te gee?
Moet ek jou tergkriek olie?
Vanaand is daar woorde
besadig en oorwoë
hou tog op en gun my vrede!
Vanaand is daar woorde, maar
met jou is nie te praat nie.
Jy kla blindelings en enkelnoot.
3.
Ek suig saam, maar pasop vir jou,
dis nie mawarm melk nie,
dis my duim en my inligting.
Ek het jou hoor skree
ek kan dit oorvertel, maar
ek kan jou nie mond of rede gee nie.
Jy het gelyk, en behoefte,
maar jou bed is koue geskiedenis
en jou omhelsende wens
sal 'n sak suf gloeilampe bly.
Ek het jou gehoor gegee,
maar die woord volhard myne.
Daar is met jou nie te praat nie,
net te luister,
en myself vrygewig en rustig lief te hê.
4.
Jy huil nog steeds.
Ek luister.
Gister hoef nie môre te word nie.
Daar is trane in my keel
en vrede vir die hede.
|
|
|